Ek kan glo dat Johannesburg destyds ‘n oulike myndorpie was. Een van daai met die sinkgeboutjies en die perdekarre in die straat. Ek kan glo dat dit rustig was, behalwe vir die odd barfight en Jameson-inval. En namate die mense meer geraak het, het die plek gegroei tot die nou al ‘n groot stad is. En glo dit of nie, die plek is nog nie klaar nie, hulle bou verwoed.
Waar die fout ingekom het, is toe hulle deurmekaar geraak het met die fyn lyn tussen ‘n parkeerterrein en ‘n snelweg. Die twee lyk baie dieselfde. Altwee is swart met wit strepe. Die een het car guards, die ander een spietkops. Die een het winkels, die ander in vulstasies. Maar waar jy moet versigtig wees, snelwee is vir ry, en parkeerterreine vir stop. En dis belangrik om nie deurmekaar te raak nie.
Mens kan nie net loop in ‘n parkeerterrein hier nie. Die mense sal jou moer bitter stamp. Maar daarmee kan mens leef. Mens moet net vinnig wees, dan mis hulle jou.
Maar vanaand, toe ek vergeefs by die lughawe probeer uitkom, oor daar ‘n lorrie iewers geparkeer staan in die pad, hoe ek ‘n vrou dop wat langs die pad stap. Kompleet met die kind op die ryg en die sak op die kop. Ek het haar bewonder vir hierdie besondere vaardigheid en haar agterna gestaar, tot sy uiteindelik buite sig verdwyn het.
En met al daai hel is my donnerse vlug nou met twee ure vertraag. Wee’ jy!