Iemand slim het eendag gese, broederliefde is net ‘n bierblikkie lank (KJ die Grote, 2007). My en my broer se liefde strek heelwat dieper as dit.
Ek kon nog nooit uitfigure of alle moeders is nie, maar myne vereis dat mens Krismis in haar huis is, maak net saak hoe ver jy en die band van haar huis af jy op die 24ste is nie. Sy raak ook periodiek opstroppelis oor ‘n familievakansie. Ek en my broer wurm ons meestal daar uit, hy oor hy moet boer, en ek oor ek moet toer, maar elke nou en dan kom die verskonings bietjie traag, en dan moet ons saam. Soos nou bietjie tyd toe ons die magtige Oranje moes bevaar in ‘n geel kanoe.
Ek en hy het voor die tyd beraadslaag en saam besluit dat al manier wat ons hierdie ding sal enduit sien, is as ons ietwat verdoof is vir die meeste van die tyd. Ons het sy varkprogram gebruik om uit te werk hoeveel bier ons moet saamvat en met die nodige ekstra kis (want dan weet ‘n man), is ons toe op die ou end met vyf kiste Windhoek, twee dosies Bon Vino en so ietsie ekstra as ‘n man vinnig op ‘n stasie moet raak agter op die bakkie oppad Noord. Ek gaan nie uitbrei oor hoe ons oor die grens is nie, maat die ietsie ekstra is nie saam rivier toe nie.
Ons kamp toe die aand in die basiskamp en vroegoggend laai ons die bakkievrag oor in die kanoe. Ons het genoeg cargostraps saamgevat, want ons wil nie die vrag verloor in die rowwe water nie. Toe die ander mense met hulle bottels water en tunablikkies by die rivier aankom, is ek en Bytjie man-man twee Windhoeke sterk, en reg vir vaar.
Een ding wat mens wel van die ons gesamentlike moeder kan se is dat sy nooit haar kinders laat honger lei het nie. Ek is nogal goed gebou, maar kak afgepleister, en Die By is rofweg dubbel my size. Toe ek en hy na ‘n aanvanklike argument oor wie voor sit, aan boord gaan, is daar so drie duim speling tussen die bokant van die water en die bokant van ons skip. Te minste is ons redelik stabiel.
O, en wat ‘n wonderlike ervaring. Die moeder se bekommernisse en preke is ‘n vae gesuis op ‘n naburige kanoe terwyl ek en my gedagtes die skip reguit hou, en die By sorg dat ons nie dors raak nie.
Waarmee ek en hy nie rekening gehou het nie, is met die brandertjies. Elke kleintjie spoel in die boot in, soveel so dat ons later sy pligte moes uitbrei na skink en skep toe. Aangesien hy groter as ek is, le al die water by hom. So al dinkende, drinkende, roeiende en skeppende kom daar toe ‘n “Singel File!!!” bevel van voor af. Ek onthou hulle het die oggend by die training iets gese van die bedryf, maar ek en die By was besig om te redeneer of ons moet koring saai of nie. Gelukkig, ons snipsussie snip ons toe in die lang ry bote in vir die komende stroomversnelling.
Ek gee toe my halfgedrink bier vir die By aan en beduie dat hy solank moet regmaak vir skep, want hier kom kak. Daai vyf duim hoe branders gaan ons nagmaak. Met my en Nambrew aan die stuur, en vir hom en Nambrew op die dreinpompe kom ons darem so driekwart deur die stroomversnelling voor ons mos aftrek om die boot leeg te skep (en sommer ‘n koue een terwyl ons tyd het).
Met die tweede stroomversnelling is ons slimmer. Ek se toe ons moet reverse deur die rapid, want dan is die swaar kant mos agter. Ons was nog nie eers lekker in die rapid nie, toe swaai die skip om in een of ander kolk, en daar is die swaar kant weer voor en ons moet weereens aftrek.
Die derde een se Bytjie toe vir my, ons moet net klaar drink voor die rapid, dat ons die boot kan roei met altwee arms. Ons is die rapid regop deur, maar die skip was heel onder water. Ons het net daar besluit dat dit eintlik ‘n duikboot is waarmee ons ry.
Ag, en so het dit aangegaan, ons is die kort rapids deur, maar vir die langes moes ons stop om leeg te maak. En nooit het ons omgedop nie, terwyl die mense om ons omval soos studente op karnaval.
Ek en die By was natuurlik moers gewild saans, maar ons was baie suinig. Die laaste aand en ons darem nog so paar biere ekstra, en kon so effens uitdeel. Ons redenasie was dat ons nie die volgende dag so baie bier gaan nodig he nie, want ons roei net uit en dan gaan ons mos die basecamp se bar kan besoek.
Mens kry mos altyd op sulke toere die ouhande en die nuwelinge. En die ouhande vertel ons die hele toer van Gamkap, glo een of ander standing wave waar almal val. Ek en die By dink natuurlik ja ja whatever. Ons kan nie val nie. Toe ons die brander waaroor die ouhande so brag nader, knoop ons net ons two-tone hemde vas, trek ons WPK hoede styf vas onder die kinnebakke en roei rustig in die ding in.
Ek onthou nog hoe die By en sy volle 130 kg in die lug in geskiet het voor ek en die koelbokse boot en al op hom neergetuimel het. Ons het so goed geraak met die vragkanoe, dat ons die lee een glad nie kon beheer nie. En dis net koelbokse en slaapsakke waar jy kyk.
Toe ek en hy die skip ingeswem het, en alles uit die water opgepik het, kry ons wragtag twee vol blikkies Windhoek in sy slaapsak.