Ek en my bra Jonsie speel mos nou deesdae weer op Donderdae in De Akker. En van ons dit weer doen lyk dit asof homeostase herstel is. Al die ou gesigte is weer terug, selfs oom Jaap.
Ek en Jonsie se paaie het die eerste keer Perdjieskool gekruis toe ek 4 en hy 5 was. Sy ma, tannie Aletta was die Perdjiesklas se juffrou. Ons moes twee keer ‘n week, vir drie ure skool toe gaan. Hy was van die eerste wit kinders wat ek leer ken het.
My groot pel daai tyd was Hannes. Ek en Hannes was ontafskeidbaar. Maar saans as dit begin donker raak moes hy huistoe, en hy ma nooit in ons huis gekom het nie. Die Perdjieskool besigheid was dus baie lastig, maar te minste kon ons in die middag weer speel. Ons het middae omgeboer, of gaan jag in die berg, of botterbome gery teen die klippe af. As dit saaityd was, kon jy ons op die land kry, en in parstyd was ons in die wingerd. Ons is ook gereeld saam gemoer oor goed, soos toe ons wou kyk of hoenders kan swem.
Ek onthou die oggend voor ek mos grootskool toe gaan. Ek en Hannes was besig om te saai, en ons moes gou maak, want die reen kom aan, toe ek en hy begin gesels oor die skoolganery. My ma het my oortuig dat ek moet gaan, sodat ek kan leer lees en skryf. So, in my 6jarige brein, was dit een oggend, twee dae tops, dan is ek klaar. So ek het vir Hannees belowe, as ek klaar is met die skoolding, dan kan ons verder speel.
Dit, soos baie ander dinge, het nooit gebeur nie. Ek het tuisgekom na my eerste dag by die skool, hoogs bemoerd, want hulle het my nie een woord leer lees nie, en ek sou dus weer moet gaan. En later was daar huiswerk, en rugby en ek en Hannes het nooit by speel uitgekom nie. Die volgende jaar is hy toe ook skool toe en die logistiek het ‘n nagmerrie geraak.
Ek en Hanru speel een aand, toe ek al geswot het, by At Ease (R.I.P.), ‘n baie cool cocktail bar in die Paarl. Ek neem toe die wyse besluit om eerder by die ouers op die plaas te gaan oornag as om Stellenbosch toe te ry. Net anderkant Windmeul le daar toe ‘n liggaam in die pad. Goeie kind wat ek is, trek ek toe af. Ek stap na die liggaam toe en ek ek sien dis een van die plaasmense wat uitgepass le op die R44. Ek gryp toe die jong agter die kraag en sleep hom uit die pad uit terwyl hy saggies “Dankie baas, dankie baas”, prewel. Toe ek hom so half hardhandig in die sloot gooi, val my Kadet (die Vlieende Hollander) se ligte op sy gesig.
Dit was Hannes.
haha…@wou kyk of hoenders kan swem.
vir sy “simpelgeid”?
Wat was jou reaksie, het jy Hannes geklap?
Sad.
Knap geskryf, Kaalvoet.
Ai, man…ai. Maar hy sou dit vir jou ook gedoen het. Om te stop, so baie lank na skool.
Sjoe!