Mense glo my nie, maar ek is eintlik Engels, wel te minste 55%. My pa se familie is engels, en almal se ek aard na hom. My pa se familie kom uit die Kolonie uit, en hyself was pakke-pakke Engels, tot daar een of ander misverstand in st9 was. Sedertdien is hy Afrikaans. Behalwe as hy briewe vir die hoof skryf oor hoekom hy reken sy seun behoort gemoer te word.
My moeder weer se kant kom reguit uit die konsentrasiekampe uit. My eie Oupagrootjie Hansie was op St Helena. Hoewel my pa en ma nou al ‘n wyle getroud is, en my pa nie meer Afrikaans met ‘n aksent praat nie, is daar steeds kort-kort so mini boereoorlog aan die gang. Na ons familiebesoek aan die Vrouemuseum in Bloemfontein, het hulle vir ‘n week nie gepraat nie.
Oupa Hansie het destyds op hulle troue 96 geword, of soos ek vir Oupa Hansie ken, het hulle op sy 96ste verjaarsdag getrou. Die was ‘n moerse Bolandse troue, kompleet met die goue dennebolle en die opsters koek, reg in die middel van die ou Transvaal. Daar was dus hier en daar tekens van gemoedere, maar oor die algemeen niks wat mens kan skinder oor agterna nie.
So, kom al die heildronke, en toesprake, en die mense raak al meer gemoedelik. En na dit alles, gee Oupa Hansie te kenne dat hy ook iets wil se.
Nou Oupa Hansie was nie ‘n man met wie jy stry nie. Hy sal reg oor Seepunt se hoofstraat loop en net die karre met sy kierie op die bonnet tik as hulle vir hom kom. Hy wil ook mos loop. In ‘n nuwe huis sal hy al die teels wat nie reg was is nie, met sy kierie breek. Want sy seun Jurie is ‘n bouer, en hy sou nie so gebou het nie. Niemand het dus met Oupa Hansie gestry toe hy sy aanstaltes maak na die mikrofoon toe nie.
Sy toespraak lui as volg: “Op hierdie dag, taggentag jaar gelede, het ek my eerste Kakie geskiet,” en hy gaan sit.
Sjoe – en presies 11 maande later is Oupa Hansie se kleinkind weer aan die skryf
Hoop nie jy bly weer ‘n jaar lank weg nie.
Ek sal try, rerig ek sal.
LOL! Ons sal die Ingelse seker vir altyd verpes.