Ek wis al ‘n wyle van my buurman Goodstuff se wyle Oom Roelf. oom Roelf was ‘n diener in Riversdal/Stilbaai se wereld. Naas rockstars soos ek, het poliesmanne seersekerlik die beste stories.
Na ‘n lang nag se poliesman wees op Riversdal, so op drie slukke van die laaste koffie voor hulle van diens af gaan, word hulle uitgeroep na ‘n moordsaak. Toe oom Roelf op die scene aankom, is dit toe ‘n selfmoordsaak, en bonop ‘n paar dae oud al.
Jong poliesmanne se maag stoot nog in hulle kele op as hulle op ou lyke afkom, en die nag was lank, en polieskoffie gee sooibrand. Al genade daai tyd van die nag is ‘n skoon brannewyntjie.
Die twee beraadslaag toe en besluit Oom Andries sal kan help. Almal weet Oom Andries drink konstant brannewyn en hy skuld hulle juis nog van laasnaweek na die klubrugby se huistoevat.
By Oom Roelf aangeklop, maak die tannie in haar japon die kombuisdeur oop en Oom Andries skree uit die kamer uit: “Ja, kom in, kom in!”
Toe die twee in die kamer instap, le Oom Andries op die bed, met die bottel Limousine langs die bed op die vloer. Oom Andries, ‘n man vol deernis, skink toe vir elke man ‘n dop en die twee jong dieners sluk in stilte hulle mage uit hulle kele uit.
Toe hulle mage weer sit waar dit hoort, vertel Oom Roelf vir Oom Andries van Petsertjie se selfmoord, en hulle die half ontbinde lyk opgehang agter die deur gekry het, en dat hulle jammer is hulle pla so laat.
Seg oom Andries:” Ou Petsertjie? Wat?! Ek ken vir ou Petsertjie al jare, en dis die eerste keer wat hy so iets doen!”