“Het jy al jou tyres afgeblaas? Myne is op 1 bar.”
“Ek het al ja. Ek moet nog check, kan ek gou jou gauge leen?”
En so begin alle 4×4 byeenkomste. So, en met ‘n seremoniele skep van Moed. Die presiese kombinasie van die moed hang af van die spesifieke byeenkoms.
Dan is daar natuurlike die gebruiklike, en verpligtende gespottery:
“Buurman, het die Landy van jou olie in? Ek sien dan niks drup nie?”
“Ja, mens kan mos nie die goed buite jou kamervenster parkeer nie, hulle staan en breek so, jy sal nooit kan slaap nie”.
Maar dan, op een gegewe oomblik begin die lang slang 4×4′s rigting vang na die eerste hindernis toe. En dan stop die slang, en elke ou kry sy beurt om sy staal te wys, e natuulik, as iemand te lank vat na een van die agterstes se sin, dan kom dit weer gemaak kwaad van agter af: “WATSE MOUTER HET DAAI DING IN? ‘n FORD?”
En dan soos wat die Klippies deur die Drif, Olaf Bergh vloei, begin die manne hulle staal al hoe meer deeglik wys. En dis dan wanneer jy vir jou ‘n hele 4×4 kan opbou uit die parte wat jy in die pad optel.
So sit ek rustig een teug aan ‘n Perdeberg Chenin Blanc agter op Oom Mossie se Toyota terwyl ons in die Breederivier vallei rondkerjakker, terwyl die son my bleek gelaat bloedrooi grimeer en ek merk terloops op: “Jirre Oom Mossie, dis darem mooi hier.”
“Ja, ou Kaalvoet,” seg hy, “Gelukkig gebruik hulle dit vir wynmaak”.