Dit was al goed herfs toe ou Frans by my oupa, ń afgetrede boer, op die plaas kom werk vra het. Ek onthou hoe hy so skaam om die draai kom stap het, doodbang vir my ouma se baster foksie se gegrom. Frans was ook al goed in sy jare. My oupa, pas sonder hulp na hy vir Afrika na die vorige Sondag se gerumoer verjaag het en reg in die middel van sy boontjie oes huur net daar vir ou Frans.
Ek en my pa het die Saterdag oggend Frans se karige trek gaan haal en met die laaislag gesien hier kom dalk fout. Sien, ou Frans het niemand niks gese van ou Soufie nie, en toe sy sommer met die stopslag my pa berispe “oor die baas dan nou laat is” moes ons eintlik sommer net daar gery het. Ongelukkig, nog net die Kirstens het al toe selfone gehad. My oupa sou ongelukkig geraak het as ons sonder sy arbeidsmag by hom op die plaas terugkom.
So daar sit my oupa toe met ou Frans en Soufie. Frans het so manier gehad om veral op ‘n Maandagoggend in die werf ingeswaai te kom en dan vir my oupa te se:”Ek het nou juis vermore vir Soufie gese…” Nou as Frans nou juis vermore vir Soufie gese het, is enige kanse dat iets gaan gebeur anders is my oupa wat sy moer voor teetyd strip, uiters skraal. Frans het ook gereeld op ‘n Sondag huilend kom klop aan die kombuisdeur ,”want Soufie oubaas, Soufie, sy was gesuip, oubaas, en toe slaan sy gisteraand al die ruite uit, oubaas en nou is dit so koud…”. As dit een keer was, was dit maklik 100 keer. Paarl Glas het later uit gewoonte Maandae gebel om te hoor hoeveel ruite.
My oupa het later ‘n paar blanks gaan koop, en as dit te rumoerig raak, so paar skote in die lug afgevuur. Dit het gewoonlik gehelp, tot ons later by my pa se werksmense hoor van die “rowwe oubaas, jirre, hy skiet sommer vir ou Frans as die man net ‘n bietjie lyf het.” Oupa het toe maar opghou om vir Frans te skiet.
Maar mens se hart moet ook breek. Ou Frans en Soufie het een Saterdagoggend toe Oupa en Ouma regstaan vir dorp toe ry trots, hand-aan-hand kom aanstap in die werf met Ŕ200, wat duidelik al lank onder die kooi gebere word en gereeld getel word en gevra: “As oubaas nou weer met die bakkie dorptoe gaan of Oubaas nie vir ou Frans ‘n spreekbare kooi kan koop nie.”