Ek blameer die winter vir dit, maar dit voel vir my gewoonlik hier laat in Julie as die wereld op my gaan neertuimel. Dis normaalweg dan wanneer ‘n hele jaar se kak en hare op my gemoed neertuimel en dit voel asof die son nooit weer gaan opkom nie. En snaaks genoeg, geen hoeveelheid wyn kan mens uit dit haal nie.
Maar dis snaaks hoe mens gemoedrus vind in eenvoudige goed. Ek en my digterbra kuier iewers in my donker wolk by ons bra, die drummer/skilder. En, my aand kan net nie spoed vang nie. En op ‘n kol sê die skilder vir my, “don’t worry bra. It’ll turn out OK. Ons is almal hier, ons is veilig. Gooi nog hout op die vuur, ek gooi vir jou nog ‘n glas wyn.” En dit alles sonder dat ek hom vertel het van die orkaan in my gemoed.
Net so, toe ek gereken het ek gaan my polse afkou toe ek weereens die miskien-moet-ons-net-vriende-wees talk kry. Ek gaan sit toe en mor by my tjommie, die skrywer-surfer, en hy sak my af met “aag fok haar bra.”
Ek het sweerlik gedink my lewe gaan eindig toe ‘n doos een naweek my kitare in my afwesigheid kom haal het. Ek kry nog steeds nagmerries oor toe ek my voordeur oopstoot en die kaal muur sien waar my kitare was. Maar nou die dag, toe Oom Johan my bel, en sê die twee Westones is nog daar, toe skyn die son darem weer tussen die wolke deur.
Ek glo dat daar in elke situasie ‘n tipe van ‘n oomblik is wat dit maak of breek. Soms lê die oomblik in ‘n glas wyn na jou drummerbra jou half vaderlik gerus gestel het. Soms le dit in die goedgetaaimde f-woord waarmee jou skrwyerbra uit jou morbs haal. Soms is dit bloot die eerste twee luie van die oproep waarmee ‘n wildvreemde oom jou bel en sê dat jy maar altwee Westones kan kry vir ‘n spesiale prys.
Nou die aand, na ‘n lang nag se onrustig slaap, droom ek in ‘n kort stukkie slaap hoe ek en my oorle oupa uiteindelik die Farmall Regular gestart kry.
Ek het wakker geword en geweet dinge gaan OK wees.