Kort kort kry mens so epossie van een of ander vreemde naam, en ons lag dikwels in ons mou oor petroljoggie se name – Clever, Honost, Faithful ens. Maar ek sweer ek ken mens wat wat meer roekeloos met name is dat is. Kinders is nare goed, en hulle kan die lewe van jou laerskoolteug hel maak as jy onoordeelkundig name uitdeel.
Byvoorbeeld ek het nou die dag ń 3-weekoue laaite ontmoet, by name Paul Nicholas Stier. Sy voorletters is dus PNS. Dis duidelik wat sy bynaam gaan wees : Giel. Daar was ook die legendariese Nis- broers, Pieter en André op Stellenbosch. Op die klaslyste wat hulle by die leeuhokke opgeplak het was dit P, Nis en A.Nis. Mens doen mos nie dit nie.
Hoewel ek glo ‘n man moet voorletters hê, is dit nie nodig om die arme kind met ´n woordeboek te slaan nie. Twee voorname is in my opinie genoeg vir ń onrdentlike handtekening. EK het nooit verstaan hoekom sommige van die staatsdiens se vorms onder “Volle voorname” ń maksimum van drie spesifiseer nie. Maar dis om situasies soos Jan Donderdag van Gorrelberg van Staden Kasparus Bart Keet te vermy. En die liedjie spot nie, dis waar. Ek ken persoonlik mense met vier voorname.
Ander mense, in ń poging, om hel ek weet nie, fancy te wees, gee hulle kinders fancy name. Goed wat op eerste kennismaak Noors klink, totaal onuitspreekbaar en haas onspelbaar is. Wat dink die mense? Die arme klong gaan vir die res van sy lewe sy naam oor die foon moet klank en nooit se emails kry nie, want gń mens kan sy naam spel op ń gewone keyboard nie.
Daar stem ek saam my vorige buurman Jottie. As hy ń nuwe hond gekry het, het ek en hy sit en brannewyn en Oros op sy stoep drink en ‘n kortlys name opgetrek. Dan ons ons doppe opgetop en om die stoor gestap en al die name gaan skree op die werf. Eers as ons op ‘n ordentlik skreebare naam afgekom het, is die hond gedoop.
In ń meer onlangse verloop van sake, en ek blameer die imansipasie van die vrou vir dit (my oupa was reg, ons moes hulle nooit stemreg gegee het nie), het ek ń hekel ontwikkel met die dubbelloop van. Die redenasie is dat die girl nou reeds naam vir haarself gemaak het, in dus nie haar van kan verander nie. Ek meen, sy is immers ń professionele tikster vir ń vooraanstaande boedelberedder in Moorreesburg. Sy kan nie haar van vernander nie. Gevolglik kry mens jou Steyn-Swart, of Du Toit-Viljoen en so aan. Dit kon mens nog verstaan. Maar weereens, mense raak totaal simpel.
Ek stap nou die dag in ń firma in die Stad in, en die nuuste chick se kantoordeur kondig aan: Imelda van der Spuy-Van der Merwe, Prokureur.