So bel my bra, Die Digter, my een middag (van sy first cherrie of love se foon af natuurlik) om te hoor of ek sy backtrack kan kom wees by die Richmondfees in Oktober. Ek aanvaar natuurlik die uitnodiging, want na wat ‘n Bekende Sangeres my laas gese het (jy’s gefokkenfire, en toe sluk sy nog OBS) is ek redelik verveeld. En, saam met dit, was ek nog nooit ń digter se backtrack nie, en ek was nog nooit dieper in Richmond in as die Engen nie.
Van die Noorde, kom my bra, Die Digter van Dronkwordspruit, my tjommie Niel Tweesluk van Harrebeespoortdam en die twee grapjasse Melt en Hannes. Van die Suide slaan ek en die Broers Akkedis die pad, hulle in hulle Isuzu Frontier en ek in my Bonzai Isuzu.
John, ons weldoener, het ons almal in een van sy vele wonings op Richmond gevestig. Ek het aangedring om op die bank te slaap, want anders voel dit nie soos vakansie nie. Selfs iemand soos ek wat rondvlieg en op mense skree vir ‘n lewe het rus vir die siel nodig.
Daar is nie veel anders om op Richmond te doen as om jou shows te doen en jouself te vergryp aan een of ander aardse ding nie. En, aangesien die son daarop aandring om voor brekfis al op te kom (die kaapse son het in daai opsig darem maniere), begin die vergryp ook al redelik vroeg.
Ek staan die oggend en tuur in die straat af met my Brekfis-hansa. Dit was vermoedelik Saterdag, want die supermark oorkant die pad (Percy se plek) het groot aftrek gekry. Daar was baie ooms met netjies gekapte hare en tannies met gedoende hare. Alles,met die stadigheid en statigheid wat mens sal verwag van ń Saterdagoggend in ‘n vooraanstaande Karoodorp soos Richmond.
En toe stap die een Broer Akkedis met sy lang hare en swart skinny jeans oor die pad en neem ń lang teug van sy bier voor hy sy kitaar uit die bakkie laai.